05 November 2010

Tradisies

Soos daar in Suid-Afrika `n Nasionale Braai dag is en so, is hier in Kanada ook snaakse vakansiedae wat ons nie aan gewoond is nie. Een van die grootes is Thanksgiving. Dit is op 11 Oktober en word eintlik gevier as `n oesfees: dankie vir die goeie oes. Die meeste boere oes reeds voor 11 Okt, maar hierdie jaar was dit baie nat, so boere het nog 3 weke na Thanksgiving steeds geoes.

Nou ja, met Thanksgiving word mens verwag om kalkoen te maak en pampoentert te eet. Daar is altyd baie kos met Thanksgiving en dit is tradisioneel `n familiedag. Siende ons geen familie hier het nie en ook nie regtig omgee oor Thanksgiving nie, het ons by ons vriende gaan kuier in Olds (+/- 400km van ons af). Hendrik en Marnel het ook onlangs Kanada toe getrek, skaars 3 weke na ons, so ons was almal nog nuut en het nie veel geweet van Kanada nie.

Ek en Marnel het resepte gaan soek wat ons kan maak en ons het sowaar `n kalkoen aangepak! Hendrik was so gaaf om vir ons SA wyn in die hande te kry, nogal `n Roodeberg ook! So het ons omtrent heel Sondag gekook (ons het ook beslut om eerder Sondag te eet as Maandag) en laat-middag ons fees gehad. Ons het 'n paar foto's geneem om die dag te onthou:



Kalkoen smaak maar net soos hoender - dis net baie groter en droeër. Ek weet nie eintlik waaroor die bohaai is nie. En die goed is so groot dat mens selfs 24 mense kan voer met 1 kalkoen! (Ons s'n was nou kleiner - hy was goed vir so 9 mense, maar ons was net 4!) Die vleis is nogal droog, veral die borsies, maar miskien moet ek weer probeer voor ek my voorskoot ophang.

Die volgende dag het ons Banff toe gegaan, `n bekende plekkie in die Rocky mountains waar daar geski word in die winter. Dit het nog nie gesneeu nie, so ons het die kans gehad om Banff te sien terwyl dit nog groen was. Dis net die blomme wat nie meer so welig staan nie.

Ons het ook by `n interessante plek geëet: the Grizzly House. Van buite het dit baie goed gelyk, toe ons instap word ons verwelkom deur vreemde gesegdes op T-hemde, posters, bumper-stickers en selfs g-strings! En nog bietjie verder is daar beerkoppe, moosekoppe, bisonkoppe en ander vreemde goed teen die mure en dak. Ons oë het bietjie gerek, maar ons was honger en het maar gebly.

Die spyskaart was ook "daunting" met disse soos rattlesnake, aligator, shark en frog legs, maar gelukkig was daar ook goed vir die gewone mens. Op die ou end het ons baie lekker geëet en dit was `n heel aangename, albeit weird, ervaring. Hier is ons foto's van daardie dag ook:



Meer onlangs het ons Halloween gevier op 31 Oktober. Nou dis `n storie! Halloween warehouses maak oop slegs vir hierdie tyd van die jaar. Hulle verkoop die grillerigste, weirdste, aakligste en mees onvanpaste goed vir enige iets van kinders se trick-or-treating, tienerpartytjies en volwasse "adult" dress-ups af.

Gelukkig is die kerk nie groot op Halloween nie, maar al die winkels het een of ander iets gehad en mense se tuine en huise is ook opgemaak. Ons het lank gewonder hoe ons die trick-or-treat kinders gaan hanteer en het op die ou end net ons ligte afgesit en nooit geweet van enige iets nie. Blykbaar kom kinders in elk geval nie by ons straat verby nie!
Ons het natuurlik nie ons huis opgemaak of enige iets gedoen vir Halloween nie, dit was in elk geval op `n Sondag. (Spoke en hekse op `n Sondag? Dit was `n vreemde gedagte!)

Ek dog ons is klaar met die op"dress" vakansies, maar Kersliggies begin nou oral te voorskyn kom. Ek sal maar liggies en `n boom koop. Ek kan nie wag vir almal se liggies nie (dis blykbaar pragtig) en - asseblief laat dit sneeu! In die laaste 65 jaar het dit op 2 Kersfeeste nie gesneeu nie, so ek hoop nie hierdie is weer een van daardie jare nie! As ek nie by Oubos kan wees vir Kersfees nie, moet dit ten minste wit wees! :-)

24 October 2010

So stil daar in Kanada...

Hi almal!

Jammer dat ons niks die laaste tyd gepubliseer het nie! Die grootste rede was, en ek kan dit nou maar erken, dat ek my kamera se laaier is SA vergeet het! Dit het gemaak dat ons spaarsamig foto's geneem het en nie regtig afgelaai nie om batterykrag te bespaar. Ek het `n plaasvervanger deur Amazon bestel wat tussen 3 en 14 dae afgelaai moes word, maar toe sê hulle ek moet maar net geduldig wag, dit kan tot `n maand neem.

Ek wag toe maar nóg `n maand en toe dit nogsteeds nie opgedaag het nie, het ek hulle weer gekontak en hulle het gesê hulle stuur onmiddellik vir my nog een. Sug. Nog `n maand se wag. En toe kom dit uiteindelik Dinsdag! Ek was so opgewonde en het dadelik foto's afgelaai.

Vandag het ek saam met 32 ander vroue by `n "scrap-dag" my foto's mooi uitgelê en nou kan ek dit met julle deel! (Scrap-dag is soos `n dag kamp waar almal heeldag werk, daar is `n kosspan en `n opwasspan wat betaal word, so die scrappers hoef niks daarvan te doen nie. Dit was groot pret en al scrap ek op my rekenaar, was ek welkom tussen al die papier, printers, en gom!)


 Hierdie foto's is geneem by Vicci (die een wat die vis vashou) se cabin by Larkspur (`n "cabin" is eintlik maar net `n somerhuis by die meer). Ons het boot gery, vis gevang en eg Suid-Afrikaans gebraai. Dit was groot pret!

Saam met ons was Vicci se gesin (Susan, Nina en Jacques) en nog 2 nuwe Suid-Afrikaners: Jaco en Daniela. Die foto's is `n week voor Daniela se baba se geboorte geneem. Ek het intussen al baba opgepas! Xander is nou al 5 weke oud.


Ons het een Woensdag, toe die blare mooi verkleur het, na Swan Hills gery om foto's te neem en dít was die uitslag. Swan Hills is 130km Noord-Wes van Westlock. Daar is bitter min. Die dorpie is piepklein en ons wou net `n koffietjie gehad het, maar kon geen plek kry nie, behalwe "The Ugly Mug".

Ons gaan toe maar daar in en toe's dit `n baie oulike plekkie! Ons het heerlike hot chocolate daar gedrink en self `n cupcake op die huis gekry! (Dit was hulle 1 jaar opening anniversary) Hier by ons word die blare hoofsaaklik goudgeel. Die rooi van die Maple kry mens meer aan die oostelike kant van die land - hengse ver van ons af! :-)

21 August 2010

Aankoms ens.

Hier is `n paar foto's van ons aankoms in Kanada en ons dag in Calgary. Soos ons aangaan sal ons nog foto's plaas van ons avonture!