05 November 2010

Tradisies

Soos daar in Suid-Afrika `n Nasionale Braai dag is en so, is hier in Kanada ook snaakse vakansiedae wat ons nie aan gewoond is nie. Een van die grootes is Thanksgiving. Dit is op 11 Oktober en word eintlik gevier as `n oesfees: dankie vir die goeie oes. Die meeste boere oes reeds voor 11 Okt, maar hierdie jaar was dit baie nat, so boere het nog 3 weke na Thanksgiving steeds geoes.

Nou ja, met Thanksgiving word mens verwag om kalkoen te maak en pampoentert te eet. Daar is altyd baie kos met Thanksgiving en dit is tradisioneel `n familiedag. Siende ons geen familie hier het nie en ook nie regtig omgee oor Thanksgiving nie, het ons by ons vriende gaan kuier in Olds (+/- 400km van ons af). Hendrik en Marnel het ook onlangs Kanada toe getrek, skaars 3 weke na ons, so ons was almal nog nuut en het nie veel geweet van Kanada nie.

Ek en Marnel het resepte gaan soek wat ons kan maak en ons het sowaar `n kalkoen aangepak! Hendrik was so gaaf om vir ons SA wyn in die hande te kry, nogal `n Roodeberg ook! So het ons omtrent heel Sondag gekook (ons het ook beslut om eerder Sondag te eet as Maandag) en laat-middag ons fees gehad. Ons het 'n paar foto's geneem om die dag te onthou:



Kalkoen smaak maar net soos hoender - dis net baie groter en droeër. Ek weet nie eintlik waaroor die bohaai is nie. En die goed is so groot dat mens selfs 24 mense kan voer met 1 kalkoen! (Ons s'n was nou kleiner - hy was goed vir so 9 mense, maar ons was net 4!) Die vleis is nogal droog, veral die borsies, maar miskien moet ek weer probeer voor ek my voorskoot ophang.

Die volgende dag het ons Banff toe gegaan, `n bekende plekkie in die Rocky mountains waar daar geski word in die winter. Dit het nog nie gesneeu nie, so ons het die kans gehad om Banff te sien terwyl dit nog groen was. Dis net die blomme wat nie meer so welig staan nie.

Ons het ook by `n interessante plek geëet: the Grizzly House. Van buite het dit baie goed gelyk, toe ons instap word ons verwelkom deur vreemde gesegdes op T-hemde, posters, bumper-stickers en selfs g-strings! En nog bietjie verder is daar beerkoppe, moosekoppe, bisonkoppe en ander vreemde goed teen die mure en dak. Ons oë het bietjie gerek, maar ons was honger en het maar gebly.

Die spyskaart was ook "daunting" met disse soos rattlesnake, aligator, shark en frog legs, maar gelukkig was daar ook goed vir die gewone mens. Op die ou end het ons baie lekker geëet en dit was `n heel aangename, albeit weird, ervaring. Hier is ons foto's van daardie dag ook:



Meer onlangs het ons Halloween gevier op 31 Oktober. Nou dis `n storie! Halloween warehouses maak oop slegs vir hierdie tyd van die jaar. Hulle verkoop die grillerigste, weirdste, aakligste en mees onvanpaste goed vir enige iets van kinders se trick-or-treating, tienerpartytjies en volwasse "adult" dress-ups af.

Gelukkig is die kerk nie groot op Halloween nie, maar al die winkels het een of ander iets gehad en mense se tuine en huise is ook opgemaak. Ons het lank gewonder hoe ons die trick-or-treat kinders gaan hanteer en het op die ou end net ons ligte afgesit en nooit geweet van enige iets nie. Blykbaar kom kinders in elk geval nie by ons straat verby nie!
Ons het natuurlik nie ons huis opgemaak of enige iets gedoen vir Halloween nie, dit was in elk geval op `n Sondag. (Spoke en hekse op `n Sondag? Dit was `n vreemde gedagte!)

Ek dog ons is klaar met die op"dress" vakansies, maar Kersliggies begin nou oral te voorskyn kom. Ek sal maar liggies en `n boom koop. Ek kan nie wag vir almal se liggies nie (dis blykbaar pragtig) en - asseblief laat dit sneeu! In die laaste 65 jaar het dit op 2 Kersfeeste nie gesneeu nie, so ek hoop nie hierdie is weer een van daardie jare nie! As ek nie by Oubos kan wees vir Kersfees nie, moet dit ten minste wit wees! :-)